Strauss & co - Review 2009

3 Voorsitters Oorsig Aan die end van ons eerste bestaansjaar is Dr Strauss en ek heeltemal oorweldig deur die merkwaardige prestasies wat Strauss & Co. behaal het in ’n hoogs mededingende mark, plaaslik sowel as internasionaal, en ten spyte van die resessie. Na net een jaar word die naam Strauss & Co. reeds geassosieer met buitengewone kuns en ongeëwenaarde kundigheid en diens. Daarbenewens maak ons omset dié jaar ons die grootste kunsafslaers in Suid Afrika. Die sukses van ons veilings kan tot ’n groot mate toegeskryf word aan die vertrouens-verhouding wat die direkteure en staf van Strauss & Co. oor baie jare met versamelaars en handelaars in Suid Afrika sowel as oorsee opgebou het. Ons is ons kliënte baie dank verskuldig vir hulle ondersteuning in hierdie eerste jaar. STREWE Ons strewe om kundigheid en passie aan die toppunt van die plaaslike kunsmark aan te moedig en ’n gepaardgaande beklemtoning van kwaliteit, diens en uitnemendheid blyk ’n wenformule te wees – alle eer aan ons formidabele span wêreldklas kunsveiling spesialiste met StephanWelz, die doyen van Suid Afrikaanse kunsafslaers en -kenners, aan die hoof. PRESTASIES Strauss & Co. het in sy eerste jaar drie veilings aangebied, twee in Johannesburg en een in Kaapstad. ’n Omset van meer as ’n 100miljoen Rand vir oorwegend topgehalte skilderye is behaal en maak van Strauss & Co. die markleier. Tans is ons markaandeel byna dubbel die van ons naaste mededinger. Ons het talle nuwe veilingrekords opgestel vir onder meer, Anton vanWouw, Irma Stern, JeanWelz, Wolf Kibel, Frans Oerder en Freida Lock, Kaapse meubels en Paul Storr silwer. Veral noemenswaardig onder die rekords was: • die hoogste prys vir ’n skildery (Irma Stern se Magnolias in ’n Erdepot , verkoop vir R7 241 000, ’n wêreldrekord vir ’n stillewe deur die kunstenaar) • die hoogste prys vir ’n beeldhouwerk (Anton vanWouw se Noitjie van die Onderveld , verkoop vir R946 900, ’n wêreldrekord vir die kunstenaar) • die hoogste prys vir ’n Kaapse meubelstuk (’n 18de eeuse koromandelhout buffet met Kaapsesilwer beslag, verkoop vir R1 058 300) • die hoogste prys vir ’n silwer item (’n paar George III silwer wynverkoelers deur Paul Storr, London 1819, verkoop vir R1 559 600) AGTERGROND Na StephanWelz se skielike uittrede uit die kunsmark in 2007 en ’n daaropvolgende 18 maande lange handelsweerhouding was daar by ons geen twyfel nie dat die Suid Afrikaanse kunsmark ’n leier en mentor verloor het. As gesoute versamelaars en gedryf deur ons passie vir Suid Afrikaanse kuns het Dr Strauss en ek Stephan genader met die oog daarop om ’n nuwe veilingshuis te stig. Ons doel was om ’n vaartbelynde, bestendige en vooruitstrewende besigheid, met Stephan en ’n uitsonderlike span as hoofspelers, op die been te bring in ’n poging om die geloofwaardigheid en kennis wat die kunsmark verloor het terug te wen. Francis Antonie, die voormalige besturende direkteur, en Mary-Jane Darroll het die belangrike aanvoorwerk gedoen. Strauss & Co. het in September 2008 sy hoofkantoor in Houghton, Johannesburg geopen. In Februarie 2009 is ons Kaapse tak offisieel bekend gestel en in Mei betrek ons ons nuwe kantore in Nuweland. KANTORE Ons uitstekend geleë, elegante kantore weerspieël ons visie van top kwaliteit en uitnemendheid. Geïnspireer deur ’n definitiewe internasionale neiging by veilingshuise om weg te beweeg van die tradisionele Viktoriaanse beeld het Mary-Jane Darroll daarin geslaag om ’n minimalistiese galerystyl te skep. In hierdie milieu speel die kunswerke, optimaal belig en vertoon, die hoofrol. VEILINGS Die strewe van Strauss & Co. om besondere, kwaliteit werke te bemark is beloon deurdat die verkoop van verskeie belangrike werke uit privaat versamelings aan ons toevertrou is – werke, vars op die mark, wat direk van die kunstenaars of uit hulle boedels aangekoop was en wat jare reeds uit die publieke oog was. Onder diesulkes was Irma Stern se Magnolias in ’n Erdepot (verkoop vir R7 241 000, ’n wêreldrekord vir ’n stillewe deur die kunstenaar), Carla (verkoop vir R5 570 000), Wolf Kibel se boeiende Selfportret (verkoop vir R1 225 400, ’n wêreldrekord vir die kunstenaar) en JeanWelz se Stillewe Cézannesque (verkoop vir R1 225 400, ’n wêreldrekord vir die kunstenaar). Ons het die mees belangrike Kaapse meubelstuk wat nog ooit op die mark gekom het, ’n 18de eeuse koromandelhout buffet met Kaapsesilwer beslag, teen ’n rekordprys verkoop en ’n nuwe rekordprys behaal vir ’n paar silwer wynverkoelers deur die meestersilwersmid Paul Storr. Die verkoelers het driemaal hul voorverkoop skattingsprys behaal. Die uitstekende resultate behaal met die verkoop van die Leslie Milner versameling van 42 Suid Afrikaanse skilderye was deels te danke aan ons kennis van die plaaslike kunsmark en uitstaande bemarking. AFGESKEEPTE KUNSTENAARS BETREE DIE KALKLIG Strauss & Co. het rekordpryse behaal vir heelparty kunstenaars wie se werk vantevore grootliks op veilings oorskadu is. Hier kan Frans Oerder, Wolf Kibel, Dorothy Kay, May Hillhouse en Edoardo Villa genoem word. Werke wat ons van hierdie kunstenaars opgeveil het was deurgaans van uitsonderlike kwaliteit maar die feit dat dit professioneel aangebied was het gehelp dat rekordpryse vir hulle werk behaal kon word en hulle hul regmatige plek in die kunsmark kan inneem. ’N SPAN OM MEE REKENING TE HOU StephanWelz se kernstaf van sy voormalige maatskappy bedryf ons Kaapse kantoor. Hulle is Ann Palmer, Vanessa Phillips en Bina Genovese, almal hoogs bekwame, ervare kundiges met jare se ondervinding in die veilingswêreld. Onlangs het Mica Curitz en Emma Bedford ook lede van die span geword. Mica is ’n silwerware spesialis en Emma Bedford ’n hoogaangeskrewe bekende in die kunswêreld. In Johannesburg is Mary-Jane Darroll Stephan se werksvennoot met haar uitgebreide galery en veiling ondervinding. Met so ’n span bestaan daar by my geen twyfel nie dat Strauss & Co in die toekoms sal voortgaan om ’n belangrike rol in die Suid Afrikaanse kunsmark te speel deur die beste belange van beide verkopers en kopers te dien. Hiermee wil ek ook graag al ons kliënte ‘n vreugdevolle feesgety toewens.

RkJQdWJsaXNoZXIy NzIyMzE=